Tuesday, 16 November 2010

Maria Elizabeth Roos

My ma se beste vriendin, Tannie Bettie, se vriendskap het in 1956 begin.  Toe tannie Bettie 15jaar oud was is haar ouers oorlede en is sy st agt uit die skool uit.  Tannie Bettie het haar man op n Dingaansfees ontmoet en op 17 is sy met oom Henry getroud.  Die minister moes toestemming gee vir die troue omdat sy nog minderjarig was.  Sy is in die magistraatskantoor getroud en geen seremonie het gevolg nie.  Ook geen fotos geneem.  Die getroude paartjie het op Kaalspruit in die Standerton se distrik gaan bly saam met haar skoonpa.  Haar skoonpa het haar leer kook en was baie goed vir haar - het selfs vir haar saans n piepie-potjie kamer toe gebring omdat in daardie jare die toilette nog buite in n klein huisie was.  Hulle het daardie jare nog nie yskaste gehad nie en tannie Bettie vertel my dat hul die gaar vleis in roomkanne bewaar het met beesvet bo-op.

Die aantreklike Henry Adendorff in sy jong dae:

 Uit die huwelik is vier kinders gebore: Basie, Ria, Leon en Donnie.
 Onder:   Vakansie tyd, Henri, Bettie met Basie en Ria op hul skote.  Wonder hoekom Henri n baadjie en n kort broek op die strand aan het, die kinders ook aangetrek en net Bettie in  haar baai-kostuum?
 In 1960 het die Adendorffs en ons familie saam gaan vakansie hou in Amanzimtoti.   Met hierdie vakansie was my suster Ina n regte tiener en soos jul op die foto kan sien lyk sy nie bietjie grand in haar swart en wit baai kostuum nie.  Sy het ook n donkerbril gehad met n rooi raam en die het sy al op gehad 2uur die nag toe ons gery het na Amanzimtoti.  Saam in die motor was daar twee slagskape, een vark 9 dosyn eiers en mieliemeel vir pap.  Shortie, die swart man wat vir die Adendorffs gekook het, was ook saam.  Die kinders het mos gese hul gaan op Bettie se graf se:  Wat sy kon doen het sy Shortie laat doen.  Die foto onder is ons familie in Amanzimtotie.

Oom Henry is gebore die 8ste Februarie 1921 en op 42jaar aan n hard aanval oorlede.  Basie was toe 14jaar oud.  Hy is op Kaalspruit begrawe.
Ons het daai jare op die plaas Kromdraai gebly.  Sondae wou ons ouers altyd saam kuier en was dit n oor en weer gebellery wie moet vir wie gaan kuier.  Ek onthou dat Tannie Bettie - hulle selfs met die Ferguson trekker gekom  het omdat dit so gereen het en die paaie onrybaar was.

Vandag woon Ria en haar man in Kanada en Nieu-Zeeland, Leon en Liddie, Donnie en Liesbet woon in Standerton.  Basie was met Annette getroud en twee kinders is uit die huwelik gebore: Mannetjie en Lucille.

Kyk hoe smart lyk Basie hier met die pak wat sy pa vir hom gekoop het met Leon se geboorte.

Basie was n tyd lank in Frankryk waar hy vir Atlas gewerk het.  Na n gebroke huwelik en baie ander probleme en hartseer is hy op 52 in die jaar 2000 as n eensame mens oorlede.  Ek en hy was groot vriende toe ons klein was en sal hom nooit vergeet nie.
Hier is Ria ook met Leon se geboorte.  Lyk sy nie te pragtig nie!
Vandag bel Tannie Bettie elke aand my ma om nag te se.  Sy hekel ook rande om vadoekies op n gereelde basis vir my en Philip.   Soos die quote wat ek gelees het se:
One friend is enough for a life time.  Dis so met my ma en tannie Bettie.

Friday, 5 November 2010

Carolina Elizabeth Maree 1

Vandag wil ek skryf oor my ma.  Omdat daar so baie te skryf is sal ek dit in twee artikels verdeel. Op die foto bo staan sy heel regs toe sy veertien jaar oud was en in standerd 8.

Philippus het hierdie aanhaling vir my geskryf en gemail uit die boek:" We, The Drowned" (Carsten Jensen).
Die skrywer vertel hoe hul altyd totsiens aan hul moeders moes se.  Hul moeders was altyd besig en hul vaders weg op die see.  Hul het hul liefde vir hul moeders gewys met stilte, hul wou hul ma's nie pla.

"Their eyes were always red. In the morning, when they woke us up, it was from the stove smoke.  And in the evening , when they said goodnight to us, still dressed, it was from exhaustion.  And sometimes it was from crying over someone who would never come home again.  Ask us about the colour of a mother's eyes, and we reply, 'They aren't green.  They're neither blue nor grey.  They're red.'  That's what we'd say.

Ek skryf graag oor my ma.  Want haar oe is rooi.

My ma se doopnaam is Carolina Elizabeth Maree, vernoem na haar Pa se ma. Haar bynaam was Baba.  Later jare is sy nog so genoem: Tannie Baba.
Sy is in die huis op die plaas Ganspan in Kroonstad se distrik gebore op die 8ste Desember 1921.  n Vroedvrou het die bevalling gedoen.  Sy is die tweede dogter van vier dogters.  Haar jongste suster, Stefani was sestien jaar jonger as sy.
My ma het n speelpop gehad wat sy by haar neef, Gilbert Davies, vir kersfees gekry het.  Dit was n celluloid pop en het n halfkroon gekos - in vandag se dae 25c.

Die lekkerste tye wat my ma as kind onthou van haar gesin is die aande waar hul as gesin saam sit en boek lees het.  Een het voorgelees en die ander het geluister.  Die volgende aand lees hul verder by kerslig.  Boeke soos Ben Hur, Uit oerwoud en vlaktes, Ruiter in die nag - dis die boeke wat my ma onthou.  Lien se gusteling boek was Gwennie Barneveld.  Dit was n verhaal van n dogtertjie wag agter n skoenlapper aangeharloop het en toe verdwaal het.

My ma vertel dat hul altyd met n perdekar rondgereis het.  Vakansies, van Kroonstad na Brandfort, waar haar ouma en oupa gebly het ,  het hul met die trein gery.  My Oupa se eerste motor was n Chevrolet wat nie vensters gehad het nie maar seilklappe wat oop en toe gemaak kon word.  Theo Hartslief het Lien leer bestuur maar sy het eers haar lisensie op 58jaar gekry toe sy afgetree het en in Pretoria kom bly het.

My ma het begin skool gaan op Loskuil.  Die dogters het by Ouma Spangenberg gebly en die onderwyseres was Mej Jansen wat van Betsjoeanaland af gekom het.  Ouma Spangenberg het n klein orreltjie gehad en saans na boekevat het al die klomp kleinkindes Halleluja liedere gesing.
Toe my ma ongeveer 10 jaar oud was is haar Ouma oorlede en sy onthou dat hul "uit dieptes gans verlore" gesing het ( ek dink net hoe het die begrafnisgangers getrek!)  en haar Pa se arms was in n draagdoek vasgebind!!!

My ma se sy was baie lief vir dans, die lekkerste was wanneer hulle by die pawiljoen langs die rivier gaan dans het - baie romanties.  Seker waar my suster, Ina  en ook ek ons liefde vir dans gekry het.
Gelukkig is dit deesdae nie meer sonde nie want toe ek op Hoerskool was is daar baie gedebatteer of ons nou mag dans of nie.  Die "New Look" het ook uitgekom in my ma se Hoerskooljare en almal moes toe lang rokke he.  Toe Lina klaar met skool was, sy was toe 17jaar, was dit die depressie jare en vir verder studeer was daar nie geld nie.  Syt gaan werk by die Staatsdiens in Pretoria, by departement Publieke werk en het in die registrasie afdeling gewerk.  Dit was op die hoek van Vermeulen en Bosmanstraat. 


Die kaartjie hierbo is in 1942 vanuit Nairobi deur Heunis na Lien gestuur. Op my pa se verjaardag die 9e November 1939 het my ouers ontmoet  Hul verloofring was n diamantjie wat 17pond gekos het.  Lien se trourok was van wit satyn met n pragtige sleep.  Haar weggaan pakkie was pienk linne met navy bybehore.
In 2009 het ons familie die volgende prys aan my ma
oorhandig:
Vir die oudste, slimste en mooiste Ouma.
Gediggie deur Luchelle, Philippus se vrou:

Skoppensboer kon sy tot die laaste woord onthou,
vir haar ouderdom is sy definitief nie lou
Sy reis nog dikwels om die wereld
wie weet volgende jaar dalk n kerel?
Sy is die oudste, slimste en mooiste
van hierdie lang familie lys
en daarvoor verdien sy die prys.

n Vriendin van my se ma is laas week getroud.  Die oom 86 en sy 90.  Hier is n foto op hul troudag.
So ons wag maar nog vir my ma.  Sys nog nie 90 nie.

 



Tuesday, 26 October 2010

Kerk

Omdat ons verbintenis met Universiteitsoord kerk reeds in my man se studentejare begin het, was dit sondag baie spesiaal om weer vir Ds Madder Steyn te hoor preek.
Die preek het gegaan oor Filipense 4 vers 4.  Verbly jou altyd in die Here.  Ek herhaal verbly jou.
Ds Madder het die skildery van Faust, wat in die Louvre is, Checkmate gebruik om sy preek te verduidelik.
Die skildery het satan daarop wat skaak speel en onder staan checkmate.  n Verbyganger het voor die skildery gaan staan en geskreeu, haal af dis onwaar ek is al jare die wereld se beste skaakspeler.
Waarom moet ons bly wees in n land waar baie negatiewe dinge plaasvind?
Omdat God altyd die laaste skuif het.  Toe hy aan die kruis gesterf het en almal gedink het dis skaakmat.
Het ons vergeet - God het nog n skuif.  Sondag was sy graf leeg.
Wanneer ons negatief wil dink of praat, onthou, God het nog n skuif.

Ons verbintenis met die Oos-kerk kom van 1976 toe ons in Lisdoganstraat gebly het.  Al vier kinders is daar gedoop.  Lisca deur Willie Marais, Philippus deur  Ds Erasmus, Johan deur Attie Beetge en Carissa deur  Pieter Badenhorts.       .Al drie ons oudste kinders is ook reeds getroud in die Oos-kerk.
Die 7e Augustus hierdie jaar het Johan en Bianca na n lang verhouding ook daar getrou.
Ds Louis Venter het hulle getrou. Die teksvers was Josua 24:15:  Ek en my huis, ons sal die Here dien.
Dis ook nie die eerste keer in ons familie dat iemand met n Duitse meisie trou nie.  My broer is getroud met Judith Niebuhr en hul is al baie jare baie gelukkig getroud.  Bianca is natuurlik nie n gewone Duitse meisie nie.Sy is baie spesiaal.    Sy het vir ons dit so maklik gemaak deur ons kerk te aanvaar, ons taal  en ons familie. 
Die laaste vers van lied 284 wat ons gesing het :
Laat, Heer. u vrede deur my vloei,
leer my om ook soos U te kan vergeef.
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien. 
Bianca se suster Astrid was haar strooimeisie en Johan het 5 strooijonkers gehad, Philippus, Pieter, Cobus
Franscois en Roelof.  Roelof het vnaf Bermuda gekom om by die troue te wees.
Dit klink vir my na n sukses resep vir n huwelik.

Hierbo is ons Nel familie voor die Oos-kerk.
Die onthaal was by ons huis in n tent bo-op die tennisbaan,  Bianca het die hele rylaan vol wit vlaggies gehang wat van een boom na die ander gegaan het.  By die voordeur het sy die spyskaart op twee swart borde uiteengesit.  Langs die garage se muur is die gaste se name in ou rame neergeskryf. Bianca se ma het met hulp van haar vriende die mees ongelooflikste kos voorgesit.  Die tafels was oorlaai met kos.  Nie kos wat net neergesit is nie, elke bak of bord was n skildery op sy eie.  Die tafels in die tent het rangskikkings gehad net van varkore.  Varkore in glasbakke.  Nie een pot het dieselfde gelyk nie.  Bianca se ma het wit tafeldoeke self gemaak asook die servette vir die 120 gaste.  Die tafel nommers is gemerk met hout harte wat Bianca self gemaak het, met haar pa se hulp - hy is natuurlik n boomliefhebber en werk graag met hout in sy spaar tyd.  Die name op elke sitplek was n hart koekie, wat Bianca self gebak het en aan elke koekie n gas se naam op n papiertjie vasgestrik.
Nodeloos om te se dat hierdie troue deur die bruid en haar ouers aangebied is en nie deur enige iemand anders nie.  Die jong mense het tot die oggend ure fees gevier en daarna het Johan en Bianca se huwelik begin met n vakansie in Mauritius.  Johan het al sy waardevolle artikels in sy tas gepak oppad na sy honeymoon toe en dis natuurlik als uit sy tas gesteel en n maand of wat later het hy sy selfoon rekening gekry - R10,000 wat hy moes betaal.  Arme ding.
Wonderlike herinneringe, jammer dat jou troudag so vinnig verby is.

Kerke hou dienste, dope, troues en begrafnisse.  Hoeveel mis mense nie wat nie aan n kerk behoort nie!
Gaste kap dit uit!



Friday, 15 October 2010

Esperanza(Hoop)

n Man in die reddingskapsule vanuit die Chillie myn
In Oktober is dit jakarandatyd in Pretoria.  Na die winter het al hierdie droe bome in Pretoria oornag verander na n pers kleurspel.  Na die dood kom die ewige lewe - wat n troos!

Gister is al die mynwerkers, 33 van hulle, op die 69ste dag uit die myn in Chilli gered dmv n  koeelvormige reddingskapsule wat afgesak is tot onder(600m diep) waar die myners was, en een een het hul na die lig gekom.
Die gesondste man het eerste uitgekom vir ingeval daar fout sou gaan met die reddingspoging en die leier van die groep het laaste uitgekom.
Die buiteblad van Beeld het die opskrif gehad : Uit en Tuis. 'Ek het geweet God sou ons help.'
Toe gevra is aan die president van Chilli, Sebastian Pinara, wat die reddingspoging gekos het was sy opmerking dat dit nie saak maak nie want geldwaarde kan nie aan n lewe gekoppel word nie,
Die mynwerkers is n inspirerende voorbeeld van geloof en hoop.

Hoe het die tegnologie al verander nie!  Toe my ma in die vroee 1930's skool toe gegaan het, sy was toe 10 jaar en haar suster Tinka 7,het hulle 7 myl ver met n karretjie en twee donkies gery.  Daar was ongeveer 15 kinders in hierdie plaasskooltjie en almal het van donkies gebruik gemaak, want se my ma, n perd het nie die uithouvermoe van n donkie nie.  Om die skool was n kampie wat nie eers n morg groot was nie en daar het die donkies geloop tot eenuur wat die skool uitkom.  Na skool moes die twee sussies die donkies vang en inspan.  In 1933 was daar n vreeslike droogte en elke middag as die tweetjies huis toe ry het die stof opgekom en soms was dit donker van die stof, my ouma het dan alreeds die kerse opgesteek in die huis so donker was dit.

Maar daar is altyd HOOP.  Op die 5e Desember, my oupa se verjaardag, het dit vir die eerste maal gereen.
Dit was toe so laat in die jaar, en planttyd reeds verby, dat die regering trekkers gestuur het om die boere se lande te kom ploeg . Die osse was so maer na die droogte dat hulle nie kon werk nie. 
Daar het toe twee jong wit mans gekom, een se van was Biset, n baie mooi man, se my ma, en die dag toe hulle klaar is en groet sy hy vir my ma se oudste suster, Liz:   "see you in Hollywood." .  Liz was toe 16jaar oud en baie mooi.

Ons gesin het nie met donkies oor die weg gekom nie maar het n groen Datsun bakkie gehad vir jare wat ons tweedehands by my man se broer gekoop het.  As enige motor gestaan het was die bakkie altyd daar tot ons redding.  Lisca het plat gele in die bakkie as ons haar Girls High toe moes neem want syt gese al die kinders kyk vir haar.  Ek het altyd voorgestel dat sy dan met haar fiets moes gaan maar daarvoor het sy ook nie kans gesien nie.

Ons het n baie slim tuin man gehad, Johannes.  Hy het altyd die bakkie reggemaak as hy stukkend was en ook heelwat dingetjies in my huis vir my gedoen.   Nadat hy sy eie bakkie afgeskryf het het hy gevra of hy die groen bakkie kan leen, en ons het ingestem.  n Paar maande daarna het hy eendag gebel en gese die bakkie is voor n huis gesteel waar hy gewerk het.  Johannes het ook nie lank daarna, die tydelike met die ewige verwissel.  Die groot siekte van ons tyd HIV het ook sy lewe geeis.
Ek mis baie dae vir Johannes en ek mis nog meer ons groen Datsun bakkie.  My motor wat ek nou mee ry, oom Hugo, kan net nie doen wat die groen bakkie gedoen het nie.

Of die jakarandas nou blom of nie, of jy nou ry met n donkie of n groen ou bakkie, of jy nou onder in n myn vasgekeer is, een ding bly staan: daar is altyd HOOP.

Wednesday, 6 October 2010

Noem-Noem

Foto bo:   n Brawe Carissa op die lughawe waar sy almal tata se wat bel op die selfoon.

Hier volg die toesprakie wat op 29September gemaak is met die laaste ete vir Carissa Maude voor haar sewe maande kontrak in Frankryk.

Die takkies wat ek vanaand in my blompot het se naam is Amatungla in Zoeloe.
Daar is talle redes hoekom ek hierdie plantjie by die see in ons tuin geplant het:

Dis een van die mooiste tuinstruike in Suid-Afrika
Die spierwit blomme het n soet ruik en die vruggies is eetbaar.
Die struik is langlewend en immergroen.
Die blare is blink en aantreklik.
Die struik bied beskutting vir menigte kleiner plantjies en word dikwels geplant as veiligheidsheinings.
Dit groei maklik en is tuis in skaduwee.
Laastens, hulle het dorings wat seer kan steek.

Waarom is die plantjie se naam dan ook Carissa?

Omdat:

Sy pragtig is.  Sy n vertrek vul met n heerlike reuk deur haar sprankelende persoonlikheid.
Sy beskerm haar familie en vriende.  Ons kan na haar toe gaan vir beskutting, al is sy die jongste.

Al is hier 4 soorte Noem-noems in SA is ek seker hierdie plantjie sal ook groei in Creutzwald.
Daar sal sy gelukkig wees met pragtige blomme en blink blaartjies.  Haar dorinkies sal haar beskerm

Omdat God  hierdie plantjie en ook vir Carissa gemaak het glo ek dat dit met jou baie goed sal gaan.
Mag jy elke dag gelukkig wees en ons almal wens jou die beste toe vir die res van jou lewe........

Carissa st tweede naam is Maude.  Sy is vernoem na haar ouma(Maude Hughes later Nel) wat weer vernoem is na haar tannie.
Die tannie het oorsee gebly.
Ek het n rukkie gelede hierdie wonderlike vertoning Afri-Frans gaan kyk.  Die hoofsanger se naam is natuurlik ook Maud.   Sou daar enige ooreenkomste wees tussen hierdie twee Maudes?
Albei is verskeie tale magtig.
Myra Maud "GEE KLAS" in Gospel-musiek, Carissa :GEE KLASSE" in Engels en Frans.
Altwee hierdie Maude's is mal daaroor om te dans, hul is albei gevoelsmense, ervaar emosies baie intens,
en soos die noem-noem versprei hul die aangenaamste reuk oral waar hul gaan.
Daar is nog so baie om oor Carissa te se, gelukkig kan ek blog so lank ek daartoe in staat is, en kan ek al my kosbare ervarings met my blog lesers deel, dalk kan my kleinkinders ook nog van my lesers word......wie weet.
die noem-noem

Monday, 27 September 2010

Rut en Boas


Sonsondergang in Afrika
Met Izak en Lientjie se troue vrydag op Erfenisdag het die dominee vertel van Boas en Rut wat albei n tweede kans in die lewe gekry het .Die vergelyking was baie toepaslik.
My man vertel dat in die mediese beroep is daar n toets wat met n veer uitgevoer word.  Blykbaar Boas se veer waarmee jy op die skouer aangeraak word om die hoeveelheid pyn vas te stel.  Ek dink nie Boas van die Bybel is dieslefde Boas van die veer nie.
Terug by die troue in die Oos-kerk (al my kinders is hier gedoop en drie van die vier ook reeds hier getroud)
Twee dogtertjies stap in die kerk in, daarna volg Lientjie met haar pa.  In die loop van die diens benodig die bruid n tissue.  Sy draai om en vra haar ma n tissue en vee die trane af.  Haar ruiker het n pragtige protea in die middel - so Suid-Afrikaans.
By die Laerskool Pretoria-Oos (waar al vier my kinders ook skool gegaan het) is die tafels gedek onder die bome, skape is gebraai en almal kuier vrolik saam. Party mense het denim broeke aan ander het bal rokke aan.  Een seuntjie het n das van swart en wit strepe aan met dieselfde om die polse van sy hemp. Een meisie het n kort swart rokkie aan wat bubbles om die rompie het.  Syt haar skoene uitgeskop toe sy haarself begin geniet het .  Een tiener seun wat in standerd agt is se hare staan regop op sy kop.  Dit is mos nou die mode.. Kinders hardloop, speel en dans.  Die volmaan skyn helder oor die verrigtinge.  Een omie met n groot maag eet drie borde vleis!  Sy groente is varkvleis.  Ons eie Suid-Afrikaanse musiek dra by tot die atmosfeer.  Uit die toesprake kan jy een ding aflei - hier is liefde tussen die mense en die families.  Wat wil jy meer he?
Net die gebed dat hierdie huwelik ook deur liefde gekenmerk sal word.
My ma vertel toe sy die 9e November 1943 in Kroonstad getroud is moes n prokureur n beeedigde verklaring voor die tyd by haar afneem omdat die Skriba haar naam as Cornelia i.p.v. Carolina neergeskryf het.
Lientjie is ook Carolina, so ook my een dogter.  Daardie jare vertel my ma moes jou gebooie nog loop vir drie weke voor jy trou.  My ma was toe in Bronberg gemeente wat daardie jare nog nie n kerk gehad het nie en in n saaltjie op die hoek van Esselen en Troyestraat kerk gehou het.  Ds Klomp het hulle getrou.
My ma het tannie Nell se rok geleen om in te trou en voor sy in die kerk ingestap het was daar n swerm bye by die ingang van die kerk.  Gelukkig het hul nie die bruid gesteek nie.
Na die kerkdiens is die bruidspaar deur n fotograaf afgeneem.  Een foto.
By die Central hotel was daar n klein onthaal en die Wiskunde onderwyser mnr Kokaai Uys het die heildronk op die bruid ingestel.  Hy het gese Lina is soos n Bolandse Aandblom, sy moet mooi hanteer word.
Lientjie se broer het met sy speach sy ouers bedank.  Sy pa wat by elke rugby wedstryd was en sy ma wat altyd probeer help het dat die straf nie te groot is as hul kinders oortree het nie. Dankie dat ons in n Christelike huis kon grootword.  Hierdie familie is natuurlik stoere doppers.

Die pragtige bruid met haar protea op die tafel
Mag Izak en Lientjie se huwelik geseend wees en mag dit ook hou soos Ouma en Oupa sin - tot die dood ons skei.

Wednesday, 22 September 2010

Stefanie

Die eerste bladsy van my Kook en Geniet wat ek in 1966 ontvang het. Dit is uit n brand gered...

Met die dood hierdie week van Bettie Cilliers-Barnard het haar dogter Jana gese syt gedink haar ma sal nooit doodgaan nie, maar net kleiner word en op die horison verdwyn.  Dit het my aangegryp.
Vandag weer is mev SJA de Villiers oorlede, beter bekend as Ina van Schalkwyk.  Sy het die Kook en Geniet geskryf wat ek in 1966 as boekprys in my matriekjaar ontvang het.  Haar dogter skryf dat haar ma iets nagelaat het waarna baie mense streef maar min dit kan bereik

Dit het my laat dink aan n Tannie van my wat hierdie jaar op 72 oorlede is. Ek was baie lief vir haar en dit was altyd lekker om by haar te gaan kuier. Sy was die jongste suster van my ma.  Hulle was vyf dogters.
My ma vertel dat haar derde suster Hannie, 8 jaar oud was toe Stef gebore is.  Hul ouers se huwelik was op daardie stadium amper op die rotse en hierdie klein dogter het vir haar ma vreeslik baie beteken.
Toe sy skool toe moes gaan van die plaas Amacitia het sy so getreur oor haar ouers dat sy haar graad een nie kon slaag nie,  Hul oudste suster Liz het toe skool toe gegaan en die hoof oortuig dat sy die vermoe het om na graad 2 toe oorgeplaas te word.. Sy het vroeg in haar lewe begin voordra en op Dingaansfeeste vele eerste pryse losgeslaan.  Sy was ook goed met opstelle en later het sy ook gesing en die trekklavier gespeel.
My ouers het in die stadium wat sy klaar gematrikuleer het by n plaas gebly waar Oom Ockie Becker die eienaar was.  Hy het hul toe gehelp om vir Stef n werk by die Vaderland te kry. (Afrikaanse Pers)
Daar het sy vir Jan wat toe n joernalis was ontmoet en hulle is toe later getroud.  Drie dogters is uit die huwelik gebore.  Met die tweede dogter se bevalling het my ma met die trein van Standerton na Johannesburg gereis om by Jansi, die ouer dogter te bly.

Haar drie dogters was baie begaafd.  Jansi het n advokaat geword en Liezel n onderwyseres in tale.
Stef het ook heelparty kort verhale geskryf wat gepupliseer is.Eks nie seker waarvoor Sandri gestudeer het nie maar sy bly nou in Amerika met haar man en seun. Hul nuwe huis wat hul in Roodepoort gebou het was op die eerste vlak gebou waar al die vertrekke op die swembad oopgemaak het.  Dit het my baie beindruk.
Stef was n baie gelowige mens en het haar kinders en haar man die eerste prioriteit in haar lewe gemaak. Wat vir my van Stef sal bybly is haar lewenslus.  Sy het altyd jonger as haar ouderdom voorgekom.  Sy het al die jare baie aandag aan haar voorkoms gegee en was gewoonlik aangetrek volgens die nuutste modes.

Stef in haar jong dae

Waarmee sou hierdie drie vrouens hul besig gehou het nadat hul kinders die huis verlaat het?
Bettie het seker geskilder en Ina sou seker aan hou kook.

Stef het seker aanhou om liefde uit te deel, vir haar man, haar kinders en die mense wat haar pad gekruis het.
Haar laaste woorde nog aan my was, ons het so baie in gemeen, ek gaan vir jou kom kuier sodat ons kan gesels oor dit alles.  So jammer dat die afspraak nooit plaasgevind het nie.

Op haar begrafnis brief staan nie verniet: "Soms moet jy leer dat God met liefde mense na jou stuur om jou lewe te verryk"

Nietemin moet elke vrou haar emosies self hanteer.  Hoe ..... sal die tyd wel leer.

Kook en Geniet:  voorwoord by die eerste druk in 1951



Sunday, 19 September 2010

Hare

"daar sal nie n haar van jou hoof val as dit nie Sy wil is nie"  Woorde wat jou veilig kan laat voel.
Hoe jou hare lyk kan jou voorkoms bepaal.
My vorige haarkapper was n springbok.  Sy salon was nie rustig nie.  Hy was gewoonlik in n argumnent met sy kollega en sy kliente moes na hul stories luister.  My nuwe haarkapper is Afrikaans en het styl.
Daarom gee ek nie om om Johannesburg toe te ry na sy salon nie.  Die werkers daar is natuurlik almal Engels sprekend.  Vrydag vertel die een vir my dat hul die oggend drama gehad het by die sentrum.  n Nigerier het blykbaar iemand met n motor gejaag wat gesteel het.  Hulle het opmekaar geskreeu en almal het buite toe gehardloop om te kyk wat aangaan.  Dit is 2010 in Suid-Afrika.

My ma wat gebore is in 1920 se in hul tyd was daar nie sjampoe nie.  Hulle het hul hare met sunlightseep  gewas en met reenwater afgespoel.  Daarna het hul dit ingedraai met krullers wat genoem is Queen Bess.
Dit was sulke lang plastiek stokkies waarom jy jou hare gedraai het en dan was daar n ekstra lus wat oor die hare gegaan het en vasgehak het.  Jou hare het baie verniel met die krullers.  Die droogmaak was natuurlik in die son.

Op die plaas het my suster in die vakansies eiergeel en suurlemoensap in haar hare gevryf om dit te "voed".
Daarna het sy dit ook afgespoel in reenwater en dan het sy die hare in een rigting om haar kop gedraai en n sykous daaroor gespan.  So het sy dan ontslae geraak van haar krullebol.  Jy mag dan net nie in die reen loop nie of toelaat dat die stoom van die bad jou hare van vooraf laat krul nie.

n Familielid se dogter het die manier gehad om haar borsel in  haar hare te draai en dan kan sy die borsel nie uitkry nie.  Hoekom sy dit oor en oor gedoen het kon ek nooit verstaan nie.  n Swart vrou het nou die dag vir my vertel hoe sy die vlegsels om haar kop doen.  Dit vat ure lank om te doen en hou vir ses weke.  Hoe was jy jou kop? het ek gevra toe antwoord sy jy vee jou kop net af met n waslap.

My pa het altyd vertel dat n vlermuis binne jou hare kan koek en vassit.  My seun vertel dat hy gistraand gevoel hoe iets op sy kop sit.  Hyt maar net afgevee en verder geslaap.  Later die dag vind hy en sy vrou "droppings"  in hul slaapkamer en begin rondsoek.  Hul vind toe die arme vlermuis in hul kamer en hy help toe die vlermuis uit die venster uit met sy tennisraket.
Hoekom het die vlermuis nie op sy kop in sy hare vasgekoek nie?
Waar sou die vlermuis gesit het?Add caption

Tuesday, 14 September 2010

My amper rooi skoene

Ek het laas week vir my n paar skoene gemaak.
Drie weke voor my bespreekte datum wat 1 September was het ek n weefraam laat maak en vir my n lap in herfskleure geweef.  Ek het dit geniet maar dink ek sal met meer ondervinding n mooier lap kon weef.
Die meisie wat my geleer het is jonk en onervare.  Ek hou van haar.
Ekt gese sy moet my op my naam noem.  Al is ek heelwat ouer as sy.
Die skoene wat ek gemaak het beeld my lewensverhaal uit . Die huise waar ek gebly het.
Na my voorskoolse jare wat in die Vrystaat was het my ouers na die Transvaal verhuis waar my pa op ons plaas n huis met stene gebou. Hy het nooit geld gehad om die huis buite te verf nie en my ma het van plat klippe voor die huis n plaveisel gemaak.  Die plat klippe het sy op die plaas gekry.  n Ent verder het sy n groot bedding gemaak wat in n sirkel met ook klip gebou is.  Binne het sy rooi kannas geplant wat elke jaar geblom het.
Die huis het drie slaapkamers gehad.  Ek en my jongste sussie het n kamer gedeel en my ouer sussie het haar eie kamer gehad.  Ek weet nie waar my boetie geslaap het nie - ek dink in my ouers se kamer.
Daar was ook n sitkamer, n kombuis en n badkamer.  My ma het baie keer vir ons vertel dat sy eendag die huis gaan verleng in n L - vorm.  Sy het nooit daar by uitgekom nie.  Naby die huis het my ma ook n wilgerboom geplant en daar was ook n groente tuin.

.Ek was lief vir  my huis.  As n koshuisbrak kon ek nie wag om naweke huis toe te gaan nie.

My skoene wat ek gemaak het is van leer.  Bruin leer wat nie vuil word nie en wat sterk is.
Binne kant het ek ferweel gesit wat sag kan wees teen my voete.
Ek het ons gesin se name binne op die sool met masjien borduurwerk geborduur.  Dis die eerste keer wat ek dit doen, ek hou baie daarvan. 

Agter elke skoen se hak het ek n hart gewerk van my eie geweefde materiaal.
Rondom my skoene het ek sewe huisies  vasgestik.  Die skoene se versiering is nie dieselfde nie.
My eerste klein huisie is ons sement huisie wat my pa gebou het.
My huisie met die groen opgewerk is my huis waar ek nou bly met die tuin wat ek so voor lief is.
My huis met die blou deurknop is my huis by die see.  Ek het ook my huis daar nie geverf nie.
My huis met die baie mense in, was die huis toe ons met ons kinders almal saam gebly het.
Die huis met die kruis is my kerk.
Die huis waar ek alleen is is waar ek nou bly.
Die wit huis is waar my man werk.

Die voeltjies is die voeltjies wat uit die huis vlieg.
Die gesig wat lag is ek wat nogsteeds dankbaar moet bly.

Die ster is ekself wat moet bly skyn.

Links: my vol huisie; Regs: Ek alleen
My kinders se name

Sunday, 12 September 2010

WINDPOMP

Ek self voor ons sement huisie
Waarom sou ek die week n windpomp kies om op my kussing te verf?
 Sou dit die herinnering wees aan die foto wat ek in die Vrystaat destyds geneem het? Nogal drie windpompe op een foto.
Sou dit die verlatenheid wees wat n windpomp skep? Of sou dit die hoop van water wees?
Ek is in die laat veertiger jare gebore in die Vrystaat.  Van daai jare onthou ek bitter min.
Ek onthou net n foto van myself : n corduroy klein baadjie en kort kouse en skoene.
Ek staan.styf langs n pampasriet met die vere bo-op die punte.  Daar moes n windpomp naby wees want die rietbos word gewoonlik by water geplant.

Vandag verf ek n windpomp.  Verf ek omdat ek als wil ontdek buite my lee nes.  Ek gebruik charcoal, grys en wit kleure.  Ek gaan regte vere in my kussing sit.  Gansvere van n plaas.  Ek gaan die kussing gebruik om my huis mooi te maak.  Ek gaan die kussing gebruik om teen te le as ek moeg is.  Ek gaan die kussing gebruik om vas te hou as ek verlang.  Verlang na die dae toe ek besig was om gesiggies te was, handjies skoon te maak en trane af te vee. Vier gesiggies.

 Ek geniet die verf.  Ek het geen kuns agtergrond nie.  Ek weet van kleur.  Ek weet min of meer wat jy moet meng om wat te kry. Ek kan nie teken nie.  Ek copy prentjies.  Maar wat ek die meeste van hou is om my eie fotos te copy.  Dan voel ek dis my eie werk wat ek verf.  Ek hou van die verf juffrou en die ander vrouens saam met my in die klas.  My grootste probleem is selfvertroue.  Ek is bang ek verf nie mooi nie.  Ek wil graag kuns huis toe bring wat my familie beindruk.

 Ek verf n windpomp omdat ek verlang na n plaas.  n Plaas met lande, en beeste en rooi gras en oop velde.
n Plaas met n hek.  Ek weet nooit watter kant die hek oopmaak en toemaak nie.  Partykeer moet jy die hek oplig om die ketting van die hak af te kry om dit oop te maak.  Soms moet jy die hek ook oplig as jy hom oopstoot.  Mens kan deur die hek baie ver in die pad afkyk.  Die hek moet weer toegemaak word.

n Mens kry dikwels ook n hek op jou lewenspad.  Jy kan die hek oopmaak en nuwe dinge aan die ander kant van die hek ontdek of jy kan omdraai en n ander roete vat.

Ek wil die hek oopmaak.
Links: My ma op die klip randsteen van haar kanna bedding