Die eerste bladsy van my Kook en Geniet wat ek in 1966 ontvang het. Dit is uit n brand gered... |
Met die dood hierdie week van Bettie Cilliers-Barnard het haar dogter Jana gese syt gedink haar ma sal nooit doodgaan nie, maar net kleiner word en op die horison verdwyn. Dit het my aangegryp.
Vandag weer is mev SJA de Villiers oorlede, beter bekend as Ina van Schalkwyk. Sy het die Kook en Geniet geskryf wat ek in 1966 as boekprys in my matriekjaar ontvang het. Haar dogter skryf dat haar ma iets nagelaat het waarna baie mense streef maar min dit kan bereik
Dit het my laat dink aan n Tannie van my wat hierdie jaar op 72 oorlede is. Ek was baie lief vir haar en dit was altyd lekker om by haar te gaan kuier. Sy was die jongste suster van my ma. Hulle was vyf dogters.
My ma vertel dat haar derde suster Hannie, 8 jaar oud was toe Stef gebore is. Hul ouers se huwelik was op daardie stadium amper op die rotse en hierdie klein dogter het vir haar ma vreeslik baie beteken.
Toe sy skool toe moes gaan van die plaas Amacitia het sy so getreur oor haar ouers dat sy haar graad een nie kon slaag nie, Hul oudste suster Liz het toe skool toe gegaan en die hoof oortuig dat sy die vermoe het om na graad 2 toe oorgeplaas te word.. Sy het vroeg in haar lewe begin voordra en op Dingaansfeeste vele eerste pryse losgeslaan. Sy was ook goed met opstelle en later het sy ook gesing en die trekklavier gespeel.
My ouers het in die stadium wat sy klaar gematrikuleer het by n plaas gebly waar Oom Ockie Becker die eienaar was. Hy het hul toe gehelp om vir Stef n werk by die Vaderland te kry. (Afrikaanse Pers)
Daar het sy vir Jan wat toe n joernalis was ontmoet en hulle is toe later getroud. Drie dogters is uit die huwelik gebore. Met die tweede dogter se bevalling het my ma met die trein van Standerton na Johannesburg gereis om by Jansi, die ouer dogter te bly.
Haar drie dogters was baie begaafd. Jansi het n advokaat geword en Liezel n onderwyseres in tale.
Stef het ook heelparty kort verhale geskryf wat gepupliseer is.Eks nie seker waarvoor Sandri gestudeer het nie maar sy bly nou in Amerika met haar man en seun. Hul nuwe huis wat hul in Roodepoort gebou het was op die eerste vlak gebou waar al die vertrekke op die swembad oopgemaak het. Dit het my baie beindruk.
Stef was n baie gelowige mens en het haar kinders en haar man die eerste prioriteit in haar lewe gemaak. Wat vir my van Stef sal bybly is haar lewenslus. Sy het altyd jonger as haar ouderdom voorgekom. Sy het al die jare baie aandag aan haar voorkoms gegee en was gewoonlik aangetrek volgens die nuutste modes.
Stef in haar jong dae |
Waarmee sou hierdie drie vrouens hul besig gehou het nadat hul kinders die huis verlaat het?
Bettie het seker geskilder en Ina sou seker aan hou kook.
Stef het seker aanhou om liefde uit te deel, vir haar man, haar kinders en die mense wat haar pad gekruis het.
Haar laaste woorde nog aan my was, ons het so baie in gemeen, ek gaan vir jou kom kuier sodat ons kan gesels oor dit alles. So jammer dat die afspraak nooit plaasgevind het nie.
Op haar begrafnis brief staan nie verniet: "Soms moet jy leer dat God met liefde mense na jou stuur om jou lewe te verryk"
Nietemin moet elke vrou haar emosies self hanteer. Hoe ..... sal die tyd wel leer.
|
No comments:
Post a Comment