Tuesday, 21 June 2011

Carolina Elizabeth Nel - my dogter

Lisca in haar gehekelde dooprokkie toe sy die dag gedoop is. (sy het moeg geword vir al die gedoentes)
Vandag is die 21ste Junie, die kortste dag van die jaar en ook my broer, Attie Heunis se 53ste verjaardag.
Maar vrydag die 24 ste Junie is my oudste dogter se verjaardag.  Sy is gebore op n Vrydagoggend om 7vm in die ,daai tyd genoemde, "Nuwe Moedersbond".  Dr Wilhelm Nel het met die bevalling gehelp en soos sy altyd se dit was n tangverlossing en het 6,9pd geweeg.My man Philip, het my na die hospitaal geneem in sy eerste kar, n wit Cortina.  Die voorste sitplek was los en elke keer as hy stop het die sitplek vorentoe of agtertoe geval.  Ons hoef egter nie so ver te gery het nie want ons het daai jare in Arcadia gebly.  Die adres was Lisdoganstraat 190.

Op die 6e November 1977( die jaar wat sy gebore is) is sy in die Oos-kerk deur ds Erasmus gedoop.  John Vorster, die huidige premier, was ook in die kerk omdat die ministers almal daai jare in Goewermentlaan gebly het.  Jacqueline, my man se broer Johan se oudste dogter, het haar in die kerk ingedra.
Omdat ek maar baie onervare was moet ek se ek het maar gesukkel om haar groot te kry.  Elke drie jaar daarna was eers haar broer, Philippus, en toe haar ander broer Johan, en vier jaar daarna haar sussie, Carissa gebore.

Lisca moes van die begin af help en het sy al die jare sterk leierseienskappe getoon.  Johan se nounog dat sy mooi tafelmaniere te danke is aan Lisca.  Syt begin in n speelgroepie saam met haar destysdse maatjie Amir Zarrabie by Marietjie van Dyk.  Daarna is sy Eastern Suburbs kleuterskool toe waar Nannette Viviers haar maatjie was.  Lisca het naar geword van macaronie en mag hulle nie nagereg gekry het as hul nie hul kos opgeeet het nie.  Nanette het Lisca se macaroni geeet sodat sy jellie kon kry.

Haar laerskooldae was in Pretoria-oos laerskool waar sy heel vreemd was.  Eendag het sy vir my gese hul moes pawiljoen toe gaan maar syt nie geweet wat is "pawiljoen" nie.  Syt heel goed in atletiek gedoen en het saam met drie baie goeie atlete een jaar n gou medalje met aflos gewen by die interskole atletiekbyeenkoms.
Die atletiektye was ook nie sonder spanning nie.  Ek het n vyfsent stuk aan haar broekie vasgewerk sodat sy my kan bel as sy moeilikheid het.  Met atletiekbyeenkomste moes sy in die bus ry en ek met my kar agterna.
Syt kort kort kom kyk of ek nog daar is.

Haar hele lewe wou sy haar beste lewer.  Met enige kompetisie wou sy graag wen.  Op laerskool was sy die onder-hoofmeisie en op hoerskool, Girls High, was sy ook op die leerlingraad.  Ons albei het n baie moeilike tyd gehad toe sy na n Engelse Hoerskool toe is.  In die huis het ons net Afrikaans gepraat.  Ek, komende van die platteland kon glad nie Engels praat nie.  Joha Grobbelaar was hier haar beste vriendin.  En is dit vandag nog.

Hier het sy haar eerste liefde vir tennis gewys
Omdat my man van n tennisspelende familie kom het ek ook gesorg dat Lisca tennis lesse neem.  Sy was n baie hardwerkende speler en het op Hoerskool vir Noord-Transvaal gespeel.  Sy kon na matriek in Amerika gaan studeer en tennis speel maar die stap was te groot vir haar.  Syt medies gaan swot en ons twee het saam die pad gevat.  Syt geleer en ek die ondersteuning gegee wat ek kon.  Was nie altyd maklik nie.  Ons twee het na sy gekwalifiseer het vir n week Egipte toe gegaan en die wonderlikste vakansie saam
gehad.

Lisca deur haar ma uitgeput in Egipte
Aan die begin van haar gemeenskapsdiensjaar het sy met Philip Mostert getrou op die 9e November.  Sy was n lieflike bruid en het ook in die Oos-kerk waar sy gedoop is getrou. Ds Pieter Badenhorst het hulle getrou.


"Maar eenmaal in die lewe
kom die liefde weergaloos;
en eenmaal in die gaarde
blom volmaak ------ n wonderrroos"     (AGVisser)

Hierdie jaar het Lisca gekwalifiseer as Anatomiese Patoloog.  Syt als wat sy kon ingesit om n sukses van hierdie studies te maak.  Te verstane dat sy "Cum Laude" geslaag het.  Ons is baie trots op haar.


"Dreams come true ....
if you make them.
You have to do the work."   John Coleman

Ons het n baie spesiale band.  Ons verstaan mekaar, gee om vir mekaar, is lief vir mekaar.  Die onsigbare naelstring sal seker altyd daar wees. 
Ek haal Kahlil Gibran se woorde aan:
Julle kinders is nie julle kinders nie.
Hulle is die seuns en dogters van die Lewe se verlange na lewe.
Hulle kom deur julle maar nie van julle nie
En al is hulle by julle behoort hulle nie aan julle nie.

Julle mag hulle julle liefde gee, maar nie julle gedagtes nie,
Want hulle het hul eie gedagtes.
Julle mag hulle liggame huisves, maar nie hulle siele nie.
Want hulle siele woon in die huis wat julle nie kan besoek nie,
nie eens in julle drome nie.
Julle mag strewe om soos hulle te wee,
maar moenie probeer om hulle soos julle te maak nie.
Want die lewe beweeg nie agteruit nie,
nog minder vertoef dit met die dag van gister.

Julle is die boe waaruit julle kinders soos lewende pyle geskiet word.
Die Boogskutter sien die doelwit op die pad van die oneindigheid,
en Hy buig julle met Sy mag sodat Sy pyle vinnig en ver mag trek. 
Laat julle tot blydskap in die hand van die Boogskutter gebuig word;
Want, net soos die pyl wat vlieg lief het,
so het Hy ook die boog lief wat bestendig is.



En so sal ek ook haar ALTYD lief he

No comments:

Post a Comment