Friday, 28 January 2011

Hendrik Stander Heunis, my pa

Dis, moet ek nogal se, makliker om te skryf oor iemand wat nog deel van jou lewe is.
Moeiliker as die persoon nie meer daar is nie, en al die herinneringe......

My pa was Hendrik Stander Heunis, gebore 9 November 1916 in Willowmore(op die plaas Rooikrans)  Sy ouers was Adriaan Heunis en sy Ma Catharina Susanna Barnardt( dit is natuurlik ook my doopname)  My broer se seun, Stan is natuurlik ook na my pa vernoem.  My oupa Adriaan se ouers was Hendrik Stander en Truia.  My ouma se ouers was Gerhardus en Huibrecht Barnard.
My pa vertel dan sy oupa, Gert Barnardt baie kwaai was.  As n hoenderhaan hom wakker gemaak het met sy gekraai het hy hom laat vang en al sy vere uitgetrek.  As n koei in die lusern land lol het hy n blik om haar kop vasgemaak sodat sy nie kan eet nie en haar in die land gejaag.
Hardus, Stander en Attie
Stander se Ouma Truitjie het by hulle in die huis gebly en help grootmaak aan die agt kinders.  Hulle het almal op n stadium by haar op die bed moes slaap wanneer hulle nog klein was en die volgende baba by sy Ma in die kamer moes slaap.

My pa kom uit n gesin van agt.  Rita(oorlede 17 8 1947 aan borskanker),Gerrie, Phoebe(my peetma), Stander, Hardus, Attie, Noeline en Toy.  Vandag is dit nog net Noeline wat lewe.  Sys in die ouetehuis in Memel.

My pa, Stander, was eers op Vaalplaas op skool waar sy onderwyseres se naam Maryna van Eeden was.   Hulle het haar Skoolmies genoem en was baie lief vir haar want sy het ook by hulle gelosseer.  Later na die Laerskool Graaff Reinet en op Hoerskool in Uitenhage in die ambagskool., waar hy as passer en draaier opgelei is.  Stander was baie na aan sy broer Hardus en hulle het graag tol gespeel, kennetjie, kleilat  en albaster.  My pa het ook n hanslam gehad, Toutit (stouterd) met n swartkop en toe hy sy been gebreek het het hy op die hanslam skool toe gery.  My pa was altyd baie lief vir diere.  As kind het hy n perd persent gekry wat se naam was Whisky.  Baie van die fotos wat ek nog het is my pa altyd saam met n hond afgeneem.  Hy was ook lief om die honde te terg, en altyd gemaak of hy doodonskuldig is.    Op skool het hy  n houtkarretjie van hout gemaak, met wiele van garingtolletjies .  Hulle het nooit genoeg geld gehad nie maar dit het nie saak gemaak nie want almal was arm.  Sy gunsteling storieboek was Robinson Crusoe.
Attie, my broer op breker die perd
My ouma, Catharina Susanna, Ina my sus agter, my pa Stander en voor ek en my suster Jonsie
Stander in die Noorde in Oos-Afrika 1939-1942
Na standerd 8 het my pa by die Spesiale Diens Bataljon aangesluit en is hy opgeneem in die Lugmag.  In 1940 met die tweede wereld oorlog is hy vir twee jaar na Oos Afrika in Kenia en was hy ook 1 jaar in die Belgiese Kongo.  Nadat hy terug gekom het is hy met my ma getroud op die 9e November 1943 en het hy sy ontslag gekoop en op Adendorp gaan bly.  Uit hierdie huwelik is vier kinders gebore: my oudste suster Ina, dan ek,Carin dan Jonsie en laaste, die seun Attie.

Ons familie het op vele plase gewoon.  In Kroonstad, Parys, Standerton, Piet Retief en Amsterdam.  My pas was n boer en my ma moes dikwels inspring en gaan werk het in die dorp om die pot aan die kook te hou.  My ouers het tot die dood bymekaar gebly al het die hare soms in hierdie huwelik gewaai.  My opinie was later jare dat my pa n sterk persoonlikheid gehad het maar my ma was intelligenter as hy en dit was die oorsaak van vele rusies.  Nietemin was daar net een plek waar ek as kind wou wees en dit was by my ouerhuis.

Ek het die liefde wat my pa vir boeremusiek gehad het van hom geerf.  Chris Blignaut was een van sy gunsteling sangers en Outa in die langpad sy gunsteling plaat.  Hy en my ma het ook graag saam gedans en a.g.v die dansery in die Berea saal kon hul al die verskillende soorte boere danse dans.

My pa het tot sy dood op 17 9 2000 voluit gelewe.  Hy het hom nie deur enige iets laat afsit nie.  Hy was n groot sterk man wat min emosie getoon het.  Later jare was dit vir my of ek hom bietjie beter verstaan het, hy het ook sagter geword.  As ek hom soms bel en vra wat doen Pappie vandag dan se hy hy gaan  begrafnis  toe vanmiddag, en dan se ek maar wat doen Pappie vanoggend dan se hy hy maak reg vir die begrafnis.  Hy was lief om met sy hande te werk, lief om rond te ry en sy grootste liefde was mense.  Hy kon dae om kuier.  As ek soms in die groente winkel rond loop en die guavas ruik, dan verlang ek na hom.
Dan dink ek dat hy te vroeg dood is.  Hy was so gesond tot die aneurisme operasie die einde van sy lewe beteken het.


 Op sy begrafnis het Attie die volgende gelees: (dit gee jou vrede en troos)

In die aand Het Jesus hom kom haal
die volgende dag was die hemel blou
verruklik mooi die natuur se praal
en steeds blinkend blou

sou jy jou ore spits kon jy dalk hoor
die vreugdevolle tuiskoms van n kind
in die hemel weerklinkend n engelekoor
uitgedra op die vlerke van die wind

In God se liefde is hy ewig geborge
ondervind hy heerlike vrede en rus
sonder pyn, sonder kommer of sorge
aan Sy Heiland se bors gesus.

Tuesday, 4 January 2011

Cape st Francis geskryf des 2010

Archie en Jack is die oujongkerels wat Maude Nel, my skoonma en my kinders se Granny, se broers was.
Hulle het in 1968 , die jaar toe Boelie(die seun van Johan(my man Philip se enigste broer) en Sonja) gebore is, die erf hier in Cape st Francis gekoop by Arnold Coetzee vir R5000.  Daar was net twee Fishermen Shacks op en na n jaar het John Booysen die huis gebou vir R18000.  Die hout  balke is nie reg ingesit nie en daarom vibreer die vloer altyd as jy daarop loop.
Johan en Sonja het met hul kinders en ook die twee ooms vir al die jare hier kom vakansie hou.
Archie derde van links agter en Jack agter heel regs met die ou huis in die agtergrond.
Na Archie se dood het Jack by Johan-hulle gaan bly en in 1996 het Johan gevra of ons die huis by Jack kan koop want hy het nie meer geld om die huis in stand te hou nie en hyt ook nie meer geld vir sy daaglikse onkostes nie.  Ons het toe ingestem en ooreengekom dat ons maandeliks aan Jack afbetaal.  Dit was in 1996.

Desember1996 het ons toe vir die eerste keer as n familie hier kom vakansie hou nadat ons die huis reggemaak het en nog vertrekke aangebou het.  Wilhelm Lochner was die argitek wat ons daarmee gehelp het en Willem Fick was die bouer.  Om van Pretoria af dinge by die see wil laat doen is omtrent onmoontlik so die huis soos hy vandag is is eintlik vir my n wonderwerk.
Daardie jaar het my ma en pa saam met ons gekom en Attie, my broer en sy gesin het ook voor kersfees hier kom kuier.  Eendag het ons besluit om te stap van Oesterbaai na Cape st Francis.  Johan Alberts het hier verby geloop en gese dit vat so n uur na n uur en n half.  My pa het ons almal met die kombi gaan aflaai inOesterbaai.  Die hondjies het ook saamgegaan en elke ou was gepantser met n vrugtesappie wat ons so na n halfuur, gedrink het.  Die kinders was kaalvoet want ons het gedink ons sal strandlangs loop.  By die huis het my ma, ouma Lien, haastig haar bestanddele reggekry om ons te verras met warm skons as ons terugkeer.
Rheinie agter 4e van links met haar donkerbril op
Die strandlopery het nie gerealiseer nie en ons moes begin oor rotse klim en klouter.  Later het ons gedink dit sou gouer gaan om deur die bosse te loop.  Daar was geen voetpaadjies nie en ons moes soms oor die bosse val.  Om elke draai het ons gedink dit sal die laaste draai wees en met skok agtergekom dat die vuurtoring net nie nader wil kom nie.  Toe ons uiteindelik by die draad van Cape St Francis kom was dit 6 ure later.  Toe my broer se dogter Rheini 18 jaar oud aan die einde van haar matriekjaar oorlede is was my droom om nog eendag weer Oesterbaai te stap met T-shirts aan waarop Rheini staan, ter nagedagtenis aan haar.  Wie weet miskien kan dit nog eendag waar word.

Laas jaar het n resep in die Sarie-kos van n tarentaal-pastei gesien en het begin soek na n tarentaal .   Bianca het uitgevind dat ek dit in Johannesbrug kan koop maar teen n fenomenale prys.  My swaer Johan het toe by sy seun Philippie n makou gekry en hier aangebring vir my.  Ek was nie lus vir die swart makou nie maar eendag besluit ek toe om dit voor te berei.  Ek het die makou in stukke gesny en n week in karringmelk ge marineer.  Twee dae se kook het gevolg en uiteindelik het ek sagte swart vleis gehad,  Ek het die bene verwyder en gedink al manier om die mense te kry om hierdie swart vleis te eet is om klein pasteitjies te maak wat ek met n soet jam bedien het.  Na so ses pasteitjies se vouery het ek vir Hendrik my bediende se seun gese ek dink hys lus om te leer om pasteitjies te maak.  Ek het hom gewys hoe om dit te vou en ons het die heelvakansie as ons gaste gekry het klein "wilds" pasteitjies bedien.  Ons het naderhand moeg geword daarvoor en ek sit nog met gevriesde pasteitjies.
die eend

Hierdie jaar het ons gedink dit gaan n eensame Desember wees met Carissa in Creutswald en Johan en Bianca in Singapoer.
Ouma wat nou 89 is het saamgekom en was nog so fiks dat sy appelkoosjam gekook het en ook 60 vetkoeke gebak het.  Ouma het kersoggend die prys gekry vir die oudste persoon by die kersdiens.
Die oudste twee kinders en hul wederhelftes het toe afgehad oor die kersnaweek en het sommer afgevlieg vir die langnaweek.  Wat n wonderlike verassing vir ons - spesiaal Luchelle wat pas swanger geword het!
Mostert se ma en dogter was ook hier vir kersfees.  Ingrid is n week vantevore geopereer vir kolonkanker en het met haar positiewe gesindheid bygedra tot n heerlike kersdag. Philip se broer het ook kom kuier en een van sy vriendinne was ook hier vir drie dae.  Johan Schoeman, Philip se eerste jaar  kamermaat het sy vrou Ina n jaar gelede verloor.  Sy het asbestose gehad en hul dogter Lizma wat in n rolstoel is agv Lupus was ook hier vir drie dae.

Sou hierdie huis by die see n plek wees om meer liefde te gee?  Sou hierdie huis n plek wees om meer om te gee vir mense wat dit nodig het?  Wat kan ons nog doen?
 en sal ons Bobby van Jaarsveld se nuwe liedjie:
"Spieeltjie spieeltjie se vir my, hoe sien ander mense my" maar ignoreer en dalk net ons hart volg?