Tuesday, 26 October 2010

Kerk

Omdat ons verbintenis met Universiteitsoord kerk reeds in my man se studentejare begin het, was dit sondag baie spesiaal om weer vir Ds Madder Steyn te hoor preek.
Die preek het gegaan oor Filipense 4 vers 4.  Verbly jou altyd in die Here.  Ek herhaal verbly jou.
Ds Madder het die skildery van Faust, wat in die Louvre is, Checkmate gebruik om sy preek te verduidelik.
Die skildery het satan daarop wat skaak speel en onder staan checkmate.  n Verbyganger het voor die skildery gaan staan en geskreeu, haal af dis onwaar ek is al jare die wereld se beste skaakspeler.
Waarom moet ons bly wees in n land waar baie negatiewe dinge plaasvind?
Omdat God altyd die laaste skuif het.  Toe hy aan die kruis gesterf het en almal gedink het dis skaakmat.
Het ons vergeet - God het nog n skuif.  Sondag was sy graf leeg.
Wanneer ons negatief wil dink of praat, onthou, God het nog n skuif.

Ons verbintenis met die Oos-kerk kom van 1976 toe ons in Lisdoganstraat gebly het.  Al vier kinders is daar gedoop.  Lisca deur Willie Marais, Philippus deur  Ds Erasmus, Johan deur Attie Beetge en Carissa deur  Pieter Badenhorts.       .Al drie ons oudste kinders is ook reeds getroud in die Oos-kerk.
Die 7e Augustus hierdie jaar het Johan en Bianca na n lang verhouding ook daar getrou.
Ds Louis Venter het hulle getrou. Die teksvers was Josua 24:15:  Ek en my huis, ons sal die Here dien.
Dis ook nie die eerste keer in ons familie dat iemand met n Duitse meisie trou nie.  My broer is getroud met Judith Niebuhr en hul is al baie jare baie gelukkig getroud.  Bianca is natuurlik nie n gewone Duitse meisie nie.Sy is baie spesiaal.    Sy het vir ons dit so maklik gemaak deur ons kerk te aanvaar, ons taal  en ons familie. 
Die laaste vers van lied 284 wat ons gesing het :
Laat, Heer. u vrede deur my vloei,
leer my om ook soos U te kan vergeef.
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien. 
Bianca se suster Astrid was haar strooimeisie en Johan het 5 strooijonkers gehad, Philippus, Pieter, Cobus
Franscois en Roelof.  Roelof het vnaf Bermuda gekom om by die troue te wees.
Dit klink vir my na n sukses resep vir n huwelik.

Hierbo is ons Nel familie voor die Oos-kerk.
Die onthaal was by ons huis in n tent bo-op die tennisbaan,  Bianca het die hele rylaan vol wit vlaggies gehang wat van een boom na die ander gegaan het.  By die voordeur het sy die spyskaart op twee swart borde uiteengesit.  Langs die garage se muur is die gaste se name in ou rame neergeskryf. Bianca se ma het met hulp van haar vriende die mees ongelooflikste kos voorgesit.  Die tafels was oorlaai met kos.  Nie kos wat net neergesit is nie, elke bak of bord was n skildery op sy eie.  Die tafels in die tent het rangskikkings gehad net van varkore.  Varkore in glasbakke.  Nie een pot het dieselfde gelyk nie.  Bianca se ma het wit tafeldoeke self gemaak asook die servette vir die 120 gaste.  Die tafel nommers is gemerk met hout harte wat Bianca self gemaak het, met haar pa se hulp - hy is natuurlik n boomliefhebber en werk graag met hout in sy spaar tyd.  Die name op elke sitplek was n hart koekie, wat Bianca self gebak het en aan elke koekie n gas se naam op n papiertjie vasgestrik.
Nodeloos om te se dat hierdie troue deur die bruid en haar ouers aangebied is en nie deur enige iemand anders nie.  Die jong mense het tot die oggend ure fees gevier en daarna het Johan en Bianca se huwelik begin met n vakansie in Mauritius.  Johan het al sy waardevolle artikels in sy tas gepak oppad na sy honeymoon toe en dis natuurlik als uit sy tas gesteel en n maand of wat later het hy sy selfoon rekening gekry - R10,000 wat hy moes betaal.  Arme ding.
Wonderlike herinneringe, jammer dat jou troudag so vinnig verby is.

Kerke hou dienste, dope, troues en begrafnisse.  Hoeveel mis mense nie wat nie aan n kerk behoort nie!
Gaste kap dit uit!



Friday, 15 October 2010

Esperanza(Hoop)

n Man in die reddingskapsule vanuit die Chillie myn
In Oktober is dit jakarandatyd in Pretoria.  Na die winter het al hierdie droe bome in Pretoria oornag verander na n pers kleurspel.  Na die dood kom die ewige lewe - wat n troos!

Gister is al die mynwerkers, 33 van hulle, op die 69ste dag uit die myn in Chilli gered dmv n  koeelvormige reddingskapsule wat afgesak is tot onder(600m diep) waar die myners was, en een een het hul na die lig gekom.
Die gesondste man het eerste uitgekom vir ingeval daar fout sou gaan met die reddingspoging en die leier van die groep het laaste uitgekom.
Die buiteblad van Beeld het die opskrif gehad : Uit en Tuis. 'Ek het geweet God sou ons help.'
Toe gevra is aan die president van Chilli, Sebastian Pinara, wat die reddingspoging gekos het was sy opmerking dat dit nie saak maak nie want geldwaarde kan nie aan n lewe gekoppel word nie,
Die mynwerkers is n inspirerende voorbeeld van geloof en hoop.

Hoe het die tegnologie al verander nie!  Toe my ma in die vroee 1930's skool toe gegaan het, sy was toe 10 jaar en haar suster Tinka 7,het hulle 7 myl ver met n karretjie en twee donkies gery.  Daar was ongeveer 15 kinders in hierdie plaasskooltjie en almal het van donkies gebruik gemaak, want se my ma, n perd het nie die uithouvermoe van n donkie nie.  Om die skool was n kampie wat nie eers n morg groot was nie en daar het die donkies geloop tot eenuur wat die skool uitkom.  Na skool moes die twee sussies die donkies vang en inspan.  In 1933 was daar n vreeslike droogte en elke middag as die tweetjies huis toe ry het die stof opgekom en soms was dit donker van die stof, my ouma het dan alreeds die kerse opgesteek in die huis so donker was dit.

Maar daar is altyd HOOP.  Op die 5e Desember, my oupa se verjaardag, het dit vir die eerste maal gereen.
Dit was toe so laat in die jaar, en planttyd reeds verby, dat die regering trekkers gestuur het om die boere se lande te kom ploeg . Die osse was so maer na die droogte dat hulle nie kon werk nie. 
Daar het toe twee jong wit mans gekom, een se van was Biset, n baie mooi man, se my ma, en die dag toe hulle klaar is en groet sy hy vir my ma se oudste suster, Liz:   "see you in Hollywood." .  Liz was toe 16jaar oud en baie mooi.

Ons gesin het nie met donkies oor die weg gekom nie maar het n groen Datsun bakkie gehad vir jare wat ons tweedehands by my man se broer gekoop het.  As enige motor gestaan het was die bakkie altyd daar tot ons redding.  Lisca het plat gele in die bakkie as ons haar Girls High toe moes neem want syt gese al die kinders kyk vir haar.  Ek het altyd voorgestel dat sy dan met haar fiets moes gaan maar daarvoor het sy ook nie kans gesien nie.

Ons het n baie slim tuin man gehad, Johannes.  Hy het altyd die bakkie reggemaak as hy stukkend was en ook heelwat dingetjies in my huis vir my gedoen.   Nadat hy sy eie bakkie afgeskryf het het hy gevra of hy die groen bakkie kan leen, en ons het ingestem.  n Paar maande daarna het hy eendag gebel en gese die bakkie is voor n huis gesteel waar hy gewerk het.  Johannes het ook nie lank daarna, die tydelike met die ewige verwissel.  Die groot siekte van ons tyd HIV het ook sy lewe geeis.
Ek mis baie dae vir Johannes en ek mis nog meer ons groen Datsun bakkie.  My motor wat ek nou mee ry, oom Hugo, kan net nie doen wat die groen bakkie gedoen het nie.

Of die jakarandas nou blom of nie, of jy nou ry met n donkie of n groen ou bakkie, of jy nou onder in n myn vasgekeer is, een ding bly staan: daar is altyd HOOP.

Wednesday, 6 October 2010

Noem-Noem

Foto bo:   n Brawe Carissa op die lughawe waar sy almal tata se wat bel op die selfoon.

Hier volg die toesprakie wat op 29September gemaak is met die laaste ete vir Carissa Maude voor haar sewe maande kontrak in Frankryk.

Die takkies wat ek vanaand in my blompot het se naam is Amatungla in Zoeloe.
Daar is talle redes hoekom ek hierdie plantjie by die see in ons tuin geplant het:

Dis een van die mooiste tuinstruike in Suid-Afrika
Die spierwit blomme het n soet ruik en die vruggies is eetbaar.
Die struik is langlewend en immergroen.
Die blare is blink en aantreklik.
Die struik bied beskutting vir menigte kleiner plantjies en word dikwels geplant as veiligheidsheinings.
Dit groei maklik en is tuis in skaduwee.
Laastens, hulle het dorings wat seer kan steek.

Waarom is die plantjie se naam dan ook Carissa?

Omdat:

Sy pragtig is.  Sy n vertrek vul met n heerlike reuk deur haar sprankelende persoonlikheid.
Sy beskerm haar familie en vriende.  Ons kan na haar toe gaan vir beskutting, al is sy die jongste.

Al is hier 4 soorte Noem-noems in SA is ek seker hierdie plantjie sal ook groei in Creutzwald.
Daar sal sy gelukkig wees met pragtige blomme en blink blaartjies.  Haar dorinkies sal haar beskerm

Omdat God  hierdie plantjie en ook vir Carissa gemaak het glo ek dat dit met jou baie goed sal gaan.
Mag jy elke dag gelukkig wees en ons almal wens jou die beste toe vir die res van jou lewe........

Carissa st tweede naam is Maude.  Sy is vernoem na haar ouma(Maude Hughes later Nel) wat weer vernoem is na haar tannie.
Die tannie het oorsee gebly.
Ek het n rukkie gelede hierdie wonderlike vertoning Afri-Frans gaan kyk.  Die hoofsanger se naam is natuurlik ook Maud.   Sou daar enige ooreenkomste wees tussen hierdie twee Maudes?
Albei is verskeie tale magtig.
Myra Maud "GEE KLAS" in Gospel-musiek, Carissa :GEE KLASSE" in Engels en Frans.
Altwee hierdie Maude's is mal daaroor om te dans, hul is albei gevoelsmense, ervaar emosies baie intens,
en soos die noem-noem versprei hul die aangenaamste reuk oral waar hul gaan.
Daar is nog so baie om oor Carissa te se, gelukkig kan ek blog so lank ek daartoe in staat is, en kan ek al my kosbare ervarings met my blog lesers deel, dalk kan my kleinkinders ook nog van my lesers word......wie weet.
die noem-noem