Einde September 2010 het Carissa (my jongste dogter) vir sewe maande verhuis na Frankryk om as n onderwys-assistent te gaan skool hou. Sy moes vlieg van Oliver Tambo na Parys, n bus daar neem na die stasie. Op n trein klim na Metz, oorklim en n ander trein neem na St Avold. Daar moet n onderwyseres haar kry omdat daar nie vervoer is van St Avold na Creutzwald nie. Hierdie dorpie is in die provinsie Lorraine en baie naby aan Duitsland. Daardie aand was die begin van Carissa se grootmens reis ...... alleen.
Al het haar kleuterskool juffrou op haar rapport geskryf: "Carissa het n sterk wil" het ek danksy Skype gesien hoe broos die mens kan wees. Sy het al die skoolvakansies gekry en kon orals heen toer wat in haar begroting sou pas. Alleen. Sy moes Kersfees vir die eerste keer beleef sonder haar familie en vriende.
Hoewel my drie ander kinders ook in die buiteland gewerk het en ek ook verskriklik na hulle verlang het was hul afhanklikheid en verlange nie so intens soos Carissa sin nie.
Nietemin, ek en my man het op 23 Februarie 2011 gaan kuier in die Suide van Frankryk, 30 minute van Nice af in n klein dorpie Mougins. Geen motors word daar toegelaat nie en karre parkeer buite.
Die koerant wat ek in die vliegtuig gelees het het hoofsaaklik geskryf oor die aardbewing in ChristChurch.
In my tas op die vliegtuig was n vars mango(Carissa het gese sy is so lus daarvoor) n bottel mrs Balls Chutney, n boks vol paaseiers - daai sagtes met die wit en geel marshmellos in, twee bokse semelbeskuit, Frizzers en n pakkie vakuumverpakte droe wors. En BAIE BAIE liefde. Gestuur van almal hier in SA.
Carissa soos sy in Frankryk lyk |
n Franse meisie |
In Cannes ry ons met die treintjie deur die dorp, gaan na die vars produkte mark en eet "crepes".
In Antibes loop ons langs die see, besoek Picasso se museum en Philip kan nie help om daar (sy altyd favourite) n omelet te eet nie. Orals neem ek en Carissa fotos. Duisende.
By st Paul de Vence gaan eet ons lunch by "La Colombe D'Or. Daar sien ons n privaat kunsversameling en eet Provensaalse kos. ons eet niertjies, slakke, foi gras en lambs rack. In Nice beleef ons die blom karnaval. Ons sien vlotte met blomme en teen die einde van die optog is al die blomme van die vlotte af gegooi vir die mense. Almal stap met bosse blomme in hul arms huis toe. Die wind waai en dit reen ... ons drink hot chocolate! Ons klou aan mekaar, hou hande vas, lag en loop.... vinnig... al manier om warm te word. By die huis moet ek vier paar nat sokkies van my voete afkry ..sies!
Voor ek en Carissa ons parfuum gaan maak in Grass, besoek ons die kunsgallery in die woud buite St Paul de Vence. Carissa maak haar eie parfuum: " Maude" en myne is "Catharina" . Ons gooi 5 ml. van dit in 5ml van dat, ons meng, gooi oor, ruik lag, neem fotos. Gooi weer paar druppels in van dit en dan van dat.... Philip ondersteun ons. Help ruik. Is daar weg met ons botteltjies parfuum wat 10 dae lank nou moet trek, en elke een het n sertifikaat van verdienste ontvang.
Net buite Mougins woon ek en Carissa n kookles by. "Les Sauses" Hulle praat net Frans. Carissa is my tolk. Ek maak notas. Carissa neem al die stappe af. Vleisekstrak word van Fillet gekook, souse word in dieselfde rigting geroer, temperatuur moet konstant bly. Ons maak Sauce Bearnaise, Jus de Veau, Derives Jus A LA Maturinis, Jus Infuse A LAneth,Sauce Aioli en Sauce Mornay. Philip neem kuns fotos in die tuin met sy I-Phone. Ons lunch by hierdie pragtige plek. Ek eet vars Foi gras. Bo-op die twee stukkies foie grass is piepklein crepes gesit wat dubbeld gevou is. Langs die kant twee lang waver koekies opmekaargesit met fyn marmelade en bo-op vars mandarin. Drie kolletjies reduced balsamic en natuurlik bedien met n SOUSIE.
Neem fotos en hou hande vas. Tyd vlieg. Elke aand lui die kerkklok vir die laaste keer 10uur. In die oggend begin dit weer 8uur. Carissa was haar wasgoed in die wasmasjien, ons drink koffie saam in die bed.
Saans luister ons musiek, drink wyn en gesels. Wanneer ons terug is bly daar nog sestig dae oor vir Carissa in die vreemde. Hoe kan sy dit hanteer en die beste daarvan maak? Ons maak planne.
Maandag die 7e Maart neem ons die kar terug, vat n taxi na die lughawe. Praat niks. Oe blink. Ek en Philip vlieg saam na Parys. Carissa vlieg alleen na Toullouse.
"o Duistere nag wees goed vir my kind................"